Rabu, 23 Desember 2009

Nog 'n jaar

Verlede jaar hierdie tyd het ek na 'n lang en moeilik jaar oor die jaar wat voorlê geskryf:

Ek sien nou vreeslik baie uit na die jaar wat voorlê.
Ek sien uit na die moontlike veranderinge en geleenthede wat mag wink.
Ek sien uit na die nuwe emosies wat mag spruit.
Ek sien uit om elke stukkie geluk te pluk wat vir my beskore is.

En wat 'n wonderlike jaar was dit nie – een wat in elke opsig werd was om na uit te sien!

In Mei het ek met 'n nuwe werk begin en ek kan in alle eerlikheid sê dat nog nooit so lekker gewerk het nie. Nie te lank daarna nie het ek en my Liefie begin huise kyk en in Augustus ons perfekte nessie gekoop. Toe raak ons verloof en begin ons droomdag reël. Intussen het ek my woonstel verkoop en getrek.

Dit is alles dinge wat 'n mate van spanning saam met die opwinding bring. Maar die opwinding het oorheers en ek sou dit glad nie anders wou gehad het nie. Nou kan ek uitsien na die jaar wat voorlê, die jaar waarin ek en my Liefie die belofte van ons liefde gaan aflê en ons verbintenis gaan wettig.

Dankie aan elkeen wat bygedra het om die afgelope jaar besonders te maak en dat julle in my opwinding gedeel het. Dit is vir my so kosbaar om spesiale mense in my lewe te hê met wie ek my vreugdes kan deel.

Kersfees
Mag elkeen wat hier lees 'n baie geseënde Christusfees hê. Mag jy en jou geliefdes die wonder van Kersfees elke dag in 2010 beleef.

Selasa, 22 Desember 2009

2009-leeslys

Hier is 'n lys van al die boeke wat ek in 2009 gelees het.

- Tara Road – Meave Binchy
- The Alchemist – Paulo Coelhoe
- Veronica decides to die – Paulo Coelhoe
- Fees van die ongenooides – PG du Plessis
- Five love languages – Gary Chapman
- Die pennie – Joyce Meyer
- The secret life of bees – Sue Monk Kidd
- A linaege of grace – Francine Rivers
- Digital fortess – Dan Brown
- Angels and demons – Dan Brown
- Da Vinci Code – Dan Brown
- To find hope – Sam Williams
- Paths of glory – Jeffery Archer
- Who brings worth the wind – Lori Wick
- Kaleb – Francine Rivers
- Aaron – Francine Rivers
- Agaat – Marlene van Niekerk
- Thula-thula – Annelie Botes
- Anderkant die scrap – Dana Snyman
- Uit die binneland – Dana Snyman
- Om na 'n wit plafon te staar – Jaco Kirsten
- Avonture van Pieter Franchen – Jaco Fouche
- The White tiger – Aravind Adiga
- Op die toneel – Dana Snyman

Ek is op die oomblik besig met
- Love in the time of cholera – Gabriel García Márquez

Senin, 23 November 2009

Why I wore lipstick to my mastectomy

Geralyn Lucas het pas by 'n joernalistiekskool gegradueer en 'n droompos gekry. Haar lewe is wonderlik. Maar dan vind sy op 27 uit dat sy borskanker het. Sy kry niemand wat bereid is om met haar te praat oor wat dit beteken om 'n jong vrou met borskanker in 'n skoonheidsbehepte wêreld te wees nie. Alhoewel haar man en baie dokters vir haar die feite gee, is dit nie hulle wat haar help om die besluit (om 'n mastektomie te ondergaan) te neem nie, maar eerder al die engele wat oor haar pad kom wat al in soortgelyke situasies was.

Ek het gisteraand Why I wore lipstick to my mastectomy gekyk – 'n film met dieselfde titel as Geralyn Lucas se memoir. Dit vertel die ware verhaal van hoe Geralyn probeer om haarself te vind terwyl sy haar skoonheid en lewenslus verloor tydens borskanker; in die proses ontdek sy egter selfaanvaarding deur op haar moed, humor en rooi lipstiffie staat te maak.

Alhoewel die film oor Geralyn se siekte en haar onseker toekoms gaan, het sy 'n transformasie ondergaan wat elke vrou kan bemoedig wat al ooit voor keuses te staan gekom het waar hulle moes kies om iets groot te verloor.

Hier is 'n foto wat uit 'n toneel in die film kom - Geralyn het 'n tatoeëermerk op haar bors laat aanbring en daarna vir 'n tydskrif poseer as deel van borskankerbewusmaking. Die byskrif by die foto vat egter die hele film vir my saam:


I placed a tattoo at the end of my scar, because where my scar end, is where my heart – my courage – begins.



Ek glo elke vrou het so baie om van Geralyn en haar situasie te leer – selfs al is jy nie borskankerpasiënt nie. Gaan lees hier oor Geralyn se boek en die werk wat sy doen vir borskankerbewusmaking as ook die ondersteuning wat sy vir ander bied wat deur dieselfde gaan. Kyk gerus die film of lees die boek – en maar hou byvoorbaat 'n groot boks snesies byderhand.

Kamis, 19 November 2009

Kleur op 'n grou dag

My kantoorplant se blomme hou nou al vir drie weke lank en op 'n grou en koue Vrydag soos vandag waardeer ek die kleur wat dit namy kantoor bring net soveel meer!

Ek het dit met my selfoon geneem, dus is die kwaliteit nie baie goed nie, maar ek hoop julle kan die blomme soveel waardeer soos wat ek doen.








Minggu, 15 November 2009

Daknatmaak / house-warming

Om in 'n nuwe huis in te trek is baie opwindend. En alhoewel ons nuwe huis nie nuut is nie, is dit nuut vir ons. Daarom was dit niks minder as gepas dat ons hierdie vreugde met ons vriende gedeel het nie en het ons Saterdagaand 'ndaknatmaak / house-warming gehou.
Daar word geglo dat die oorsprong van house-warming in die storie van brood en sout lê. Daar is ook 'n oosterse tradisie om tydens house-warming partytjies rys as geskenk te gee as teken van vrugbaarheid. Baie mense het ook in daardie tyd houtskool na 'n nuwe huis gebring om dit warm te hou. 'n Tradisionele house-warming seën lui iets soos volg:
Bread: So your larder will always be full.
Salt: To give it savour.
Honey: For a sweet life in your new home.
Die term daknatmaak het weer sy oorsprong by 'n tradisie waar die bouer of eienaar van 'n gebou die dak letterlik sal natmaak om te bepaal of dit waterdig is.
Vrydagaand was daar 'n erge storm wat ons dak behoorlik natgemaak het en bewys het dat dit waterdig is en Saterdag het die samesyn met vriende ons huis en ons harte warm gemaak.
Dankie aan almal wat in ons vreugde gedeel het en vir al die geskenke wat julle aangedra het. Hier is 'n paar geskenke wat ons huis en tuin gaan verfraai.

Rabu, 04 November 2009

Van Casa Mia na Maru Place

Gisteraand stap ek gou by my ou, leë woonstel in. Ek kyk om my rond, doen wat gedoen moet word en stap weer uit. Ek was baie verbaas oor my eie houding en gevoel – veral in vergelyking met hoe ek gevoel het toe ek Donderdag daar weggery het.

Donderdag het my hart gebreek terwyl al my meubels uitgedra is. My hart het gebreek oor vyf en 'n half jaar se herinneringe en ervarings. My hart het gebreek oor die mens wat ek in Casa Mia geword het. My hart het gebreek oor een van die grootste goed wat ek nog ooit op my eie gedoen het. My hart het gebreek oor dit wat ek agter moet laat.

Die feit dat ek so hartseer was, beteken nie dat ek nie wil weggaan nie. Want my hart het ook gejuig. My hart het gejuig van dankbaarheid oor die seën wat ek daar ontvang het en dat ek altyd so gelukkig en veilig daar was. En meer as enige iets anders, het my hart gejuig oor die toekoms.

Gisteraand stap ek gou by my ou, leë woonstel in. Ek kyk om my rond, doen wat gedoen moet word en stap weer uit. Ek het wel nog dankbaarheid ervaar oor my tyd daar, maar ek was nie meer hartseer nie, want ek het reeds afskeid geneem. Die hoofstuk is afgesluit en die nuwe het begin.

Die nuwe hoofstuk het met baie harde, maar bevredigende, werk begin. Woensdag het ek en Joyce behoorlik geswoeg om Maru Place skoon te kry. Ek het dit egter met vreugde gedoen; dit was vir my soos om 'n boek met skoon blaaie te bind waarin ek die nuwe hoofstuk van my lewe kan skryf. Blaaie waarop ek saam met my Liefie die woorde van ons liefde kan skryf en die kleurvolle prente van ons lewe kan verf.

Alhoewel die hoofstuk reeds begin het, sien ek baie uit na die dag wat ons kan skryf dat my Liefie my man geword het en saam met my in ons nuwe huis kom bly. Daardie dag is oor 94 dae!

Sabtu, 24 Oktober 2009

Rose

Ek het die naweek 'n baie suksesvolle, maar baie interessante "uitstappie" gehad.

Ons het die Stolse net buite Bothaville besoek en 'n kykie gekry op hoe hulle met rose werk. Daar is 'n menigte tonnels met roosbome, maar dis die sorteerproses wat so interessant was. 'n Masjien gradeer elke roos volgens lengte, hoe dik die stam is en hoe ver die knop oop is. Dan verpak die werkers dit daarvolgens vir uitvoer of vir plaaslike gebruik (hulle lewer rose aan Woolworths).

Die see van kleur in die area waar die verpakking plaasvind is ongelooflik; en dis hier waar die sukses van die uitstappie inkom. Ek het die rose vir my troue gekry! Ek wil nie te veel uitbrei oor wat ek beplan en wat die werklike kleurskema gaan wees nie, maar hier is ietsie van dit wat ek wil hê:


PS: Nog net 104 dae voor die groot dag!